NOORDWES. – Twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 41 jaar oud, verskyn na verwagting vandag op twee aanklagte van moord in die Rustenburg-landdroshof. George (69) en Wilma Koster (66) is Saterdagmiddag in die parkeerterrein van die Platinum Square-winkelkompleks in Rustenburg doodgeskiet.
Kol. Adéle Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die inhegtenisneming van die twee verdagtes volg na uitstekende misdaadintelligensiewerk om die voertuig te identifiseer en op te spoor wat ná die misdaad gebruik is om van die toneel te vlug. Die polisie het in Ndamoyi, Boitekong, op die voertuig beslag gelê.
Tydens ondervraging het die eerste verdagte glo erken dat hy Saterdag die Kia Rio-voertuig bestuur het. Hy het voorts gesê hy was saam met sy vriend wat na bewering die bejaarde egpaar geskiet het voordat hulle van die toneel gevlug het. Die verdagte het die polisie geneem na waar sy medepligtige in Rustenburg-Oos woon. Die tweede verdagte het ‘n pistool aan die polisie uitgewys, waarna daarop beslag gelê is en die verdagte in hegtenis geneem is.
Genl.maj. Patrick Asaneng, die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het brig. Mamotsamai Ntoagae, die waarnemende distriksbevelvoerder van Bojanala Platinum Sub-distrik 2, en die span, bestaande uit Rustenburg-speurders, misdaadintelligensie, sigbare polisiëring in Rustenburg en Boitekong, Phokeng K9 en die Distrik Trio-taakspan, vir hulle werk geprys: “Hierdie vinnige inhegtenisnemings moet ’n sterk boodskap stuur aan dié wat misdade pleeg dat die polisie in die provinsie hulle genadeloos sal opspoor en dat hulle nêrens sal hê om weg te kruip nie.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





