WES-KAAP. – Gert Hills (81) van Kamdebolaan, Old Place, Knysna, het op 18 Julie vermis geraak. Sedertdien is soektogte na hom sonder sukses geloods. Sy vrou het hom by die Knysna-polisiekantoor as vermis aangemeld, wat ‘n beroep op die publiek doen om met die soektog te help.
George GPF, asook Mosselbaai, Stilbaai, Knysna, AfriForum-plaaswag en verskeie buurtwagte het reeds sonder sukses saam na Hills gesoek. Die soektogte was te voet, met voertuie, met ‘n hommeltuig en die nagaan van video-opnames. ‘n Groot gebied moet egter nog deursoek word en enigiemand wat die soektog wil meemaak, word gevra om Timothy Luff, George-GPF se soekkoördineerder, by 078 317 4822 te bel.
Christopher Spies, polisiewoordvoerder, het voorheen aan Nuusflits gesê Hills is glo die betrokke dag omstreeks 12:00 by sy huis weg om inkopies in die dorp te gaan doen. Hy het egter nie teruggekeer huis toe nie. Ten tyde van sy verdwyning het hy ’n swart hemp en ‘n broek aangehad. Hy ry met ‘n silwerkleurige Nissan Juke met registrasienommer CX14 107. Die voertuig is Vrydagaand by Klein-Brakrivier tussen George en Mosselbaai opgemerk.
’n Soektog duur voort.
Die polisie versoek enigiemand met inligting wat tot die veilige terugkeer van Hills kan lei, om die ondersoekbeampte, AO James Visagie, by 073 244 6154 te bel.






