GAUTENG. -Lucille Oosthuysen, ‘n bejaarde vrou, het ná byna drie jaar geregtigheid gekry nadat die Booysens-landdroshof in Johannesburg die 31-jarige Dylan Ferreira vir aanranding gevonnis het.
Ferreira, wat reeds in Mei 2024 skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer, moet R10 000 skadevergoeding aan Oosthuysen betaal. Hy is ook ’n boete van R10 000 of 12 maande tronkstraf opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is. Volgens Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het die eenheid die egpaar deur die hofproses ondersteun en videobewyse beskikbaar gestel wat ’n sleutelrol in die skuldigbevinding gespeel het.
Die aanval het op 5 Augustus 2023 in Mayfield, suid van Johannesburg, plaasgevind ná ’n rusie oor spaarsleutels. Die destyds 79-jarige Oosthuysen het onder meer ’n kopwond, gekraakte pols en ernstige kneusplekke opgedoen. Landdros Nicola Olivier het gesê bejaardes moet teen geweld beskerm word en dat die howe sulke misdade streng moet hanteer. Volgens Bateman sou gevangenisstraf verkieslik gewees het, maar die skuldigbevinding verseker dat daar wel gevolge vir die oortreder is.
Druk hier om meer te lees en na video-opnames te kyk.





