KYK: Man wat bejaarde vrou aanrand, skuldig bevind

Lees ook :

Foto: AfriForum-privaatvervolgingseenheid

GAUTENG. – Dylan Ferreira is deur die Booysens-landdroshof skuldig bevind nadat hy Lucille Oosthuysen (80) op 5 Augustus 2023 ernstig in Mayfield, Johannesburg, aangerand het.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê hy is aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind. Ferreira het aangevoer hy het uit selfverdediging opgetree. Oosthuysen het ‘n bloeiede kopwond, gewrigsfraktuur en verskeie kneusplekke opgedoen.

Oosthuysen is deur die privaatvervolgingseenheid bygestaan.

Ferreira en sy verloofde, Kay-Leigh Pelser, het ‘n eiendom van die Oosthuysen-egpaar gehuur en op die betrokke dag het ‘n argument oor ekstra sleutels ontstaan. Ferreira het die bejaarde vrou soos in die video gesien kan word gestamp. Steeds het hy gepleit dit was selfverdediging.

Landdros Nicola Olivier het met die video as bewys aan Ferreira gesê: “Getuienis jok nooit, maar mense doen.” Olivier het Ferreira skuldig bevind. Ferreira sal op 5 Junie gevonnis word.

Lees die volledige verklaring van AfriForum se privaatvervolgingseenheid hier onder:

Man skuldig bevind ná “brutale aanval” op 80-jarige vrou

Dylan Ferreira is gister in die Booysens-landdroshof skuldig bevind op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer vir sy “brutale” aanval op Lucille Oosthuysen. Hierdie skuldigbevinding is ’n duidelike bewys van hoe samewerking tussen die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en AfriForum se privaatvervolgingseenheid tot geregtigheid kan lei.

Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die 80-jarige Lucille en haar man, Will, in hierdie saak. Dié eenheid het die egpaar gehelp om voor te berei om te getuig en hulle deurentyd gehelp deur die moeilike hofsaak. Daar is ook oudiovisuele toerusting aan die NVG verskaf, wat die aanklaer in staat gestel het om beeldmateriaal in die hof as getuienis voor te lê. Hierdie beeldmateriaal wat Ferreira se aanval op die bejaarde vrou wys, was deurslaggewend in sy skuldigbevinding.

Die aanranding het op 5 Augustus 2023 in Mayfield, in die suide van Johannesburg, plaasgevind. Daar was ’n dispuut oor ’n stel spaarsleutels vir ’n eiendom wat Ferreira en sy verloofde Kay-Leigh Pelser by die Oosthuysen-egpaar gehuur het. Die argument het daartoe gelei dat Ferreira Oosthuysen gewelddadig gestamp het dat sy op die plaveisel beland het. In die hof het hy getuig dat hy opgetree het uit selfverdediging.

Ferreira, ’n verkoopsbestuurder by ’n BMW-handelaar in Johannesburg, se houding het verander toe landdros Nicola Olivier haar sterk uitspraak gelewer het. “Dit is vir die hof duidelik dat die aanval op die klaer nie uitgelok was nie,” het Olivier gesê.

“Die aanval op die klaer was brutaal en ontstellend om die minste te sê. Die klaagster, wat toe 79 jaar oud was, is ’n brose, bejaarde dame wat stilgestaan het en deur ’n 28-jarige man van balans af gestamp is en hulpeloos op die plaveisel gelaat is. Die beskuldigde se gedrag was ongevraag en verdoemend. Sy verweer is ongegrond en ek vind dit moeilik om die verweer te vereenselwig met die oortreding waaraan hy skuldig bevind is.

“Ek wil hê jy moet een ding goed verstaan, en dit is hier waar ek ’n oomblik wil stilstaan om die volgende te bevind. Getuienis jok nooit, maar mense doen,” het Olivier afgesluit.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, sê hy is tevrede met die hof se uitspraak. “’n Boelie het gekry wat hy verdien. Hierdie is die gevolg van wat bereik kan word met die samewerking van ons kantoor en die Nasionale Vervolgingsgesag. Ons het in hierdie saak betrokke geraak omdat die NVG weer eens ’n slagoffer in die steek gelaat het. Die latere aanstelling van ’n briljante jong aanklaer en ’n sterk bekwame landdros tesame met ons betrokkenheid het verseker dat geregtigheid geskied. Ons spreek ons dank uit teenoor aanklaer Lungile Mazibane en ons respek teenoor landdros Nicola Olivier. Ons sal betrokke bly deur die vonnisproses.”

Die saak is uitgestel tot 5 Junie 2024 vir die vonnisoplegging.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief