Bejaarde vrou op plaas aangeval, met kettings vasgemaak en gebrand

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

MPUMALANGA. – Rolé Uys (70), ‘n veeboer, is vir ‘n tweede keer waarvan Nuusflits bewus is, Vrydag/Saterdag ernstig beseer tydens ‘n aanval op ‘n plaas naby Carolina. Die Carolina-polisie ondersoek die aanval waartydens sy met kettings vasgebind, met kookwater gebrand en twee van haar werkers ontvoer is.

Sers. Thulisile Magagula, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits Uys se voertuig is Saterdag in die vroeë oggendure omstreeks 01:20 opgemerk. Polisiebeamptes was naby die Carolina-treiningang op patrollie toe hulle ‘n Isuzu-bakkie opmerk wat teen ‘n hoë snelheid in die rigting van Badplaas ry en nie by ‘n stopstraat stop nie. Die polisie het vermoed dat die voertuig aan Rolé Uys van ‘n nabygeleë plaas behoort. ’n Poging is aangewend om die voertuig te agtervolg, maar dit het die polisie ontduik. Badplaas-polisie is vir bystand gekontak en alhoewel die voertuig in hulle jurisdiksie opgemerk is, het die verdagtes weer weggekom.

Polisiebeamptes is intussen na die Uys-plaas waar hulle opgemerk het dat die hoofhekke oop was, die motorhuis leeg en die huis gesluit was. Hulle het probeer om Uys telefonies te kontak – die oproep is beantwoord, maar niemand het gepraat nie. Andries Brink, ‘n plaaslike boer, is vir bystand genader. Met hul aankoms by die plaashuis het hulle ‘n hulpgeroep uit die huis gehoor en die hangslot oopgebreek.

Uys is met kettings vasgemaak gevind. Bruin kleeflint was oor haar gesig geplak en sy het van ‘n kopbesering gebloei. Sy het bevestig dat sy en twee manlike werkers deur vier gewapende mans aangeval is en dat die werkers ontvoer is. Die booswigte het aanvanklik die Isuzu-dubbelkajuitbakkie, ‘n selfoon en rewolwer gebuit, maar die bakkie is later verlate gevind. Nooddienste is ontbied en Uys is in ‘n kritieke toestand vir mediese behandeling na die Carolina-hospitaal vervoer.

Die twee ontvoerde werkers het later Badplaas-polisie gebel en hulle is op die Machadodorp-pad opgespoor. Die gesteelde Isuzu-bakkie is deur die Witrivier-blitspatrollie in Nelspruit teruggevind. Al die slagoffers word in die Carolina-hospitaal behandel.

Daar is nog geen arrestasies gemaak nie. Ondersoeke na die huisroof (plaasaanval), ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer, duur voort.

Nuusflits het op 28 Junie berig oor ‘n aanval op Uys op 25 Junie.

Carel Pienaar van die VF Plus in die provinsie het gisteroggend in ‘n verklaring gesê Uys is in ‘n kritieke toestand. Die VF Plus eis dat die regering plaasaanvalle as ’n nasionale prioriteit hanteer, nie as ’n statistiek in ’n verslag nie. “Ons sal nie langer toekyk en toelaat dat ons mense verniel, getraumatiseerd en in vrees moet leef nie. Die tyd vir verandering is nou. Genoeg is genoeg.”

Volgens Landbouweekblad is Uys met kookwater gebrand en meubels is op haar gepak om vermoedelik aan die brand te steek.

Bronne: SAPD, VF Plus, Landbouweekblad

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief