LIMPOPO. – Die SAPD bied ‘n beloning van R100 000 aan vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die verdagte(s) sal lei wat by die moord op William Banda (36) betrokke was. Wyle Banda was ‘n Malawiese burger en priester van die Rooms-Katolieke Kerk in Tzaneen, wat op 13 Maart omstreeks 08:00 doodgeskiet is toe hy vir ‘n kerkdiens voorberei het.
Kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits volgens inligting het ‘n manlike verdagte die betrokke oggend by die kerk opgedaag en voorgegee dat hy ‘n gemeentelid is. Hy het skielik ’n vuurwapen uitgepluk en die priester verskeie kere geskiet, waarna hy in ’n wit voertuig sonder ‘n registrasienommer van die toneel gevlug het. Die priester is op die toneel dood verklaar.
‘n Moordsaak is vir verdere ondersoek geopen. Ledwaba sê: “Enigeen met positiewe inligting wat tot die arrestasie en daaropvolgende skuldigbevinding van die oortreder kan lei, word versoek om AO Shai, die ondersoekbeampte, by 082 465 2996, of kol. Tinyiko Shilenge die provinsiale bevelvoerder van die moord-en-roofeenheid by 071 673 1814, te kontak.”
Die polisie se ondersoek duur voort.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





