GAUTENG. – Lawrance Sithebiso Mdlalose (30) se bekentenis in verband met die brand in die Usindiso-gebou is deur die Johannesburg-hooggeregshof, sittende in Palm Ridge, as toelaatbare getuienis beslis. Mdlalose word daarvan beskuldig dat hy die brand begin het, waartydens 76 mense gedood en 12 beseer is.
Mdlalose staan op 76 aanklagte van moord, een van brandstigting en 12 van pogings tot moord tereg.
Phindi Mjonondwane, streekwoordvoerder vir die NVG, sê die uitspraak volg op ‘n tussentydse aansoek deur die staat vir ‘n verhoor binne ‘n verhoor om die toelaatbaarheid van die beskuldigde se bekentenis te bepaal en voeg by die uitspraak is ‘n belangrike stap in die verloop van die saak.
Na die insident het Sisi Khampepe, ‘n voormalige regter, ‘n kommissie van ondersoek gelei om, onder andere, die omstandighede rondom die sterftes in die gebou te ondersoek. Mdlalose het op 23 Januarie 2024 getuienis gelewer en homself glo as die oorsaak van die brand geïmpliseer, wat gelei het tot ‘n bevel van Khampepe dat hy na ‘n landdros geneem moet word om sy bekentenis skriftelik vas te lê. Die bekentenis is voor ‘n landdros in die Johannesburgse landdroshof afgelê. Die verdediging het aangevoer dat die beskuldigde die bekentenis onder dwang en onder die invloed van dwelms gemaak het.
Thamsanqa Mpekana en Percy Monareng, advokate vir die staat, het egter betoog dat die verklaring vrywillig en in ‘n nugter toestand aan die landdros gemaak is en ‘n ondubbelsinnige erkenning van skuld uitmaak. Hulle het aangevoer dat aan al die regsvereistes voldoen is en dat die verklaring dus as getuienis toegelaat moet word.
Regter Cassim Moosa het beslis dat die beskuldigde se bekentenis toelaatbare getuienis is en bevind dat dit vrywillig en sonder enige onbehoorlike invloed in ‘n nugter toestand gemaak is. Die saak is vir die voorverhoor tot 13 Mei uitgestel.
Lees ook meer hier:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]




