MPUMALANGA. – Nege verdagtes in die moordsaak van wyle lt. kol. Piet Pretorius (59), ‘n voormalige bevelvoerder van die voertuigmisdaad-ondersoekeenheid in Ermelo, sal nou nóg ’n maand in aanhouding deurbring. Siyabonga Duba (31), Njabulo Zwane (27) en Vusi Shabalala (43), drie van 10 verdagtes, se aansoek vir borgtog is Woensdag in die Ermelo-distrikshof geweier.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits dié tien verdagtes staan op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, besit van ’n ongemagtigde aanvalsgeweer (AK-47) met ammunisie, en regsverydeling tereg. Die drie sluit vir verdere ondersoek by vyf medebeskuldigdes aan. Mthobisi Nkosi (40), Aubrey Xaba (35), Skhumbuzo Skhakhane (40), Nyiko Mujovo (30) en Gift Mdluli (34) het hulle borgtogaansoeke van die hand gewys. Valencia Skhosana (36) is vroeër vanjaar borgtog geweier, terwyl Phepheni Duba (37) borgtog van R10 000 toegestaan is.
Die verdagtes het na bewering op 16 Januarie 2025 met gemeenskaplike opset opgetree om kol. Pretorius te vermoor. Pretorius was aan diens en in ‘n polisievoertuig onderweg na sy kantoor toe hy verskeie keer geskiet is. Hy het kort na sy aankoms by ‘n hospitaal aan sy wonde gesterf. Die verdagtes het daarna glo die moordwapen versteek en die voertuig wat vermoedelik tydens die misdaad gebruik is, aan die brand gesteek. Die eerste vyf verdagtes is binne minder as 12 uur ná die voorval deur die Valke in Nelspruit in hegtenis geneem.
Al tien verdagtes sal weer op 14 Augustus in die Ermelo-distrikshof verskyn.
Genl.maj. Nico Gerber, provinsiale Valke-bevelvoerder, het gesê hy is tevrede met die vordering van die ondersoek en die span wat aangestel is om toe te sien dat geregtigheid geskied.
Lees ook meer hier onder:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





