GAUTENG. – Die aantal persone wat beseer is in die massaskietery in Cleveland, Johannesburg, het intussen tot 15 gestyg, terwyl die dodetal steeds op 12 staan.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwu, provinsiale polisiewoordvoerder, het die getal bevestig en gesê die motief vir die skietery word ondersoek. Genl.maj. Nonkululeko Phokane, nasionale polisiewoordvoerder, het intussen gesê lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, het die polisie se vinnige optrede ná die voorval opgemerk. Bykomende gespesialiseerde hulpbronne is ontplooi om die ondersoek te versterk. Dit sluit forensiese dienste en taktiese reaksiespanne in. ’n Multidissiplinêre taakspan werk deurlopend om alle leidrade op te volg, insluitend die opsporing van ’n wit Toyota Quantum wat vermoedelik met die skietery verbind word.
Enigiemand met relevante inligting oor die skietery word gevra om na vore te kom.





