Die ANC kraai weer koning

Lees ook :

Die ANC kraai weer koning. Foto ter illustrasie: Canva

Die amptelike uitslae van die 2024- nasionale en provinsiale verkiesing is deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bekendgemaak.

Volgens Mosotho Moepya, voorsitter van die OVK, was dit die moeilikste verkiesing tot dusver, aangesien daar baie intimidasie en aanvalle teen die kommissie was.

Die hoeveelheid setels wat die onderskeie politieke partye in die parlement sal kry, is as volg: ANC – 159, DA – 87, MK – 58, EFF – 39, IFP – 17, PA – 9, VF Plus – 6, ActionSA – 6, ACDP – 3, UDM – 3, ATM – 2, ALJAMA – 2, BOSA – 2, NCC – 2, RISE – 2, GOOD – 1, PAC – 1, UAT – 1

Alhoewel die ANC die meeste stemme in die verkiesing behaal het, is daar ’n groot afname in die aantal stemme teenoor die vorige verkiesings. Volgens die party kry hulle die boodskap. Fikile Mbalula, sekretaris-generaal, sê hulle is die afgelope ses jaar besig met ’n proses van vernuwing.

Hy meen die proses is nog nie klaar nie en dat die resultate daarop dui dat hulle die proses moet verskerp. Mbalula het ANC-ondersteuners belowe dat hulle nie hulle rug op die vernuwingsproses gaan draai nie.

Volgens Mbalula dui die uitslae ook op landsburgers se kommer rakende die party se tekortkomings. Hy sê hulle gaan die nuwe termyn met ’n duidelike mandaat in.

Die party gaan oor die volgende paar dae in gesprek wees met ander partye en belanghebbendes oor die beste wyse om ’n regering te skep wat die wil van die mense reflekteer.

Die Demokratiese Alliansie het die tweede meeste stemme gekry en behou hulle plek as die tweede grootste party in die land. Hulle het in die verkiesing meer as 3.5 m. stemme gekry. Die party is dus die grootste opposisieparty in die parlement.

John Steunhuisen, leier van die DA, sê die grootste bedreiging tans is ’n koalisie tussen die ANC, EFF en die MK. Hy het aangekondig dat die DA met ander partye samesprekings gaan voer om dit te verhoed. ’n Samesprekingsgroep is saamgestel om opsies wat aan die DA beskikbaar is om die land teen so ’n koalisie te red, te oorweeg. Volgens hom sal hulle die samesprekings met helderheid aanpak.

Bronne: ANC, DA, OVK

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief