Laasweek het ons gelees van Suna wat hoop gekies het in plaas van selfbejammering. HOOP. In ons lewens het daai woord so ’n negatiewe ondertoon gekry oor die jare en, ek glo, sy Bybelse betekenis verloor. Dink bietjie daaroor, in watse konteks gebruik jy die woord, Hoop?
Suna se verhaal begin in 2 Kon.4:8. Vers 16. Sy kry ’n ongelooflike belofte van ’n kind na jare van onvrugbaarheid, maar sy is te bang om daarvoor te hoop. Haar antwoord: “Ag nee, Meneer! U is tog ’n man van God. Moenie ’n leuen vertel en my VALS HOOP gee nie!” 2 Konings 4:16 DB.
Dit verklap iets van haar hart, ’n diep begeerte waarop sy hoop verloor het.
Ons het laasweek gesien sy het wel haar seun gekry, net soos God beloof het. Hy is skielik dood en God doen weereens die onmoontlike en bring hom terug en hy lewe!
As jy die storie lees dan wonder mens, regtig? Geen hoop, hoop, geen hoop, hoop. Wat is die punt dan van die kind gee en dan gaan hy net weer dood? En dan lewe hy weer?
Wipplank soos ons lewens dikwels nè?
In 2 Kon.8 gaan haar verhaal aan. Daar is hongersnood in die land en hulle verloor als. Na sewe jaar kan hulle terugkeer en almal moet by die koning gaan opeis wat hulle s’n was voor die hongersnood.
Op presies dieselfde tyd wat Suna voor die koning verskyn, is Gehasi besig om vir hom te vertel van al die wonders wat Elisa gedoen het, spesifiek hoe hy die seun uit die dood uit opgewek het. Die koning se reaksie toe hy haar sien: Laat haar ALLES TERUGKRY wat aan haar behoort, EN OOK DIE HELE OPBRENGS van die grond, van die dag af dat sy die land verlaat het, tot nou toe.
II KONINGS 8:6 AFR53
Jy sien, as sy nie die pad gestap het wat sy het nie, dan het die koning nie haar storie gehoor nie en dan het sy nie haar sewe jaar se opbrengs teruggekry wat sy verloor het nie.
GOD. BRING. HERSTEL. HY. GEE. TERUG.
Herstel/restore-bring back or re-establish to a previous right, practice, or situation
Herstel beteken om terug te gee/terug te vat na soos dit voorheen was. W. O. W!
Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here , gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n HOOPVOLLE TOEKOMS te gee.
JEREMIA 29:11 AFR53
In plaas van julle skande ontvang julle ’n dubbele deel, en in plaas van die smaad sal hulle jubel oor hul deel. Daarom sal hulle in hul land ’n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet.
JESAJA 61:7 AFR53
Jy mag hoop. Jy moet hoop. Dit IS jou deel. Hoop is jou deel. Herstel is jou deel.
Hoop weer
Anel