Brekende Nuus
Afrikaans

Dink mooi voordat jy ’n onderwyser word

Veral die Wes-Kaapse onderwysers voel die spanning nadat tydelike poste onlangs geskrap is.

Dink mooi voordat jy ’n onderwyser word. Foto ter illustrasie: Canva
Dink mooi voordat jy ’n onderwyser word. Foto ter illustrasie: Canva

“Dink mooi voordat jy ’n onderwyser word,” is die raad wat aan soveel studente gegee word wat aan die begin van hulle onderwysstudies staan. Die reaksies op aanlyn onderwysondersteuningsgroepe is dikwels gemeng. Party sê onderwys moet ’n passie wees, terwyl ander studente aanmoedig om vir ’n ander kursus in te skryf.

Selfs die bekende klankejuffie, Robyn, wat graag video’s van haar lesse op TikTok deel, het ’n video geplaas waarin sy oor die realiteit van onderwys gesels. Sy doen dit na aanleiding van die groot hoeveelheid boodskappe wat sy kry waarin aanhangers haar vir riglyne oor onderwysstudies vra.

Sy erken: “Ek wys net die mooi oomblikke in die klas. Ek wys nie die oomblikke wat dit moeilik raak nie.” In haar video verwys sy na laat aande se administrasie en die kurrikulum wat voortdurend verander. Volgens haar moet mense wat nie passie het vir dit wat hulle doen nie, ook nie onderwysers word nie.

Op die “Onderwysers! Teachers”-Facebook-blad word daar gereeld mooi en moedelose oomblikke gedeel. Een onderwyser vind die administrasie steurend: “Ek dog tegnologie moet alles makliker maak. Die paper trail … Alles moet ten minste op drie maniere gedoen word … elektronies en in harde kopie. As bewyse!”

Veral die Wes-Kaapse onderwysers voel die spanning nadat tydelike poste onlangs geskrap is. Dit het tot gevolg gehad dat duisende onderwysers in die provinsie hulle werk verloor het indien die beheerliggaam nie kon bekostig om hulle in diens te hou nie.

Volgens een onderwyser is sekere klasse nou oorlaai met meer as 60 leerders en die onderwysers wat weg is, se werk word onder die res verdeel. Sommige skole is tot sewe onderwysers op een slag kwyt.

Besin weer voordat jy vir die oulike TikTok-video’s val waarin die kinders soet is en die les reg verloop. Soos juf. Robyn sê: “Dis moeilik.”

Bronne: Facebook, TikTok, IOL, Western Cape Government