GAUTENG. – Die polisie het gisteraand (Dinsdag) ’n vermeende dwelmlaboratorium agter ’n taverne in De Deur ná ‘n wenk ontmantel. ’n Man (46) is in hegtenis geneem en die polisie het op items met ’n geraamde waarde van sowat R3 miljoen beslag gelê.
Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, sê beamptes van die provinsiale opsporingspan vir georganiseerde misdaad het die taverne ondersoek waar dwelms na bewering vervaardig is. Die span het op drie masjiene, twee voertuie met versteekte kompartemente en die eindproduk beslag gelê. Die man sal na verwagting binnekort op aanklagte van die vervaardiging van en handel in dwelms in die Vereeniging-landdroshof verskyn.
Lt.genl. Tommy Mthombeni, Gautengse polisiekommissaris, het die span vir hul vinnige optrede geprys.
