Brekende Nuus
Nuus

Vier verdagtes vas ná moord op Daniël Stevens in Jeffreysbaai

Foto: John Stevens

OOS-KAAP. – Vier verdagtes tussen 16 en 21 jaar oud is vanoggend (Woensdag) in Jeffreysbaai, Kariega en Humansdorp in hegtenis geneem in verband met die moord op Daniël Stevens (25). Hy is in ’n plaaslike hospitaal dood nadat hy Saterdagaand na bewering by ’n kuierplek in Jeffreysbaai aangerand is toe hy ’n vriend probeer help het.

Kapt. Marius McCarthy, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes is tussen 06:00 en 10:00 in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting Donderdag op aanklag van moord in die Humansdorp-landdroshof verskyn.

Volgens die polisie het Stevens Saterdag omstreeks 21:50 buite die kuierplek gestaan toe hy verneem het dat vier mans sy vriend binne aanrand. Toe hy sy vriend probeer help, het die vier hom glo ernstig aangerand. ’n Omstander het probeer ingryp, maar die aanranding het na bewering voortgeduur. Stevens het teen ’n verbygaande bakkie geval en sy kop teen tralies gestamp toe hy probeer wegkom. 

Een van die verdagtes het hom glo weer met die vuis geslaan, waarna hy geval en die agterkant van sy kop hard gestamp het. Hy is met ernstige beserings hospitaal toe geneem, waar hy later beswyk het.

Genl.maj. Thandiswa Kupiso, polisiekommissaris van die Sarah Baartman-distrik, het die ondersoekspan geprys vir hul vinnige optrede, wat binne enkele dae tot die vier inhegtenisnemings gelei het.