GAUTENG. – Die polisie in Pretoria het Dinsdag ses verdagtes wat glo onwettige steroïde, geskeduleerde medisyne, stimulante en ander prestasieverbeterende middels aanlyn verkoop het, gearresteer.
Kol. Amanda van Wyk sê die drie mans en drie vroue is op verskeie plekke in Pretoria op aanklagte van die oortreding van die wet op dwelms en dwelmhandel, asook die wet op medisyne en verwante stowwe, en die wet op vervalste goedere, vasgetrek. ‘n Ondersoek deur verskeie eenhede het tot die deurbraak gelei.
Die produkte, wat vervalste en onwettige prestasieverbeterende middels, geskeduleerde medisyne, steroïde en stimulante insluit, is glo op ‘n webtuiste verkoop. Forensiese ontleding het getoon die produkte bevat verbode middels. ‘n “Vetverbrander” wat verkoop is bevat dimethylphenethylamine, ‘n isomeer van metamfetamien wat in die algemeen as crystal meth of tik bekend staan.
Van Wyk bevestig daar is op die middels, asook elektroniese toestelle, beslag gelê. Die verdagtes sal na verwagting later die week in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.


