Manie Jackson het al van kleins af geweet hy wil ’n sanger word. Hy kom uit ’n musikale familie en het hy die musiekdroom gehad sedert hy vyf was.
Vir hom het al die jare se werk, toer en vriendskap met legendes bygedra tot wie hy vandag is. “Maar die dag as jy jou eerste goue toekenning ontvang, dan weet jy jou harde werk het vrugte gedra.”
Volgens hom is dit geloof, sy ma se opvoeding en sy gesin wat hom gegrond hou.
Daar is tans ’n nuwe album in die pyplyn. “Ek is besig met ’n volle album wat in 2022 begin is, maar halfpad deur moes stop weens die afsterwe van my jarelange produksieleier, Dennis East. Ons beplan om die album teen Oktober hierdie jaar voltooi te hê,” vertel hy.
Sy raad aan aspirant-sangers is om iets agter hulle name te hê. “Die musiekbedryf is te onstabiel. Bly ook nederig,” gee hy raad.
Oor sy bekendheid en die verskil wat hy daarmee kan maak, brei hy uit. “Om bekend te wees, gee jou ’n platform waarmee jy ’n verskil kan maak in mense se lewens. Dis egter baie gevaarlik, want jy kan mense beïnvloed om jou denkwyse aan te neem. Met die regte opvoeding agter jou, kan jy mense positief beïnvloed, maar daar is ook mense wat met hul bekendheid mense negatief beïnvloed. Veral jongmense is baie beïnvloedbaar.”
Sy aanhangers weet hy is een mens, op die verhoog en van die verhoog af. “Daar is nie twee persoonlikhede nie.”
Hy los sy aanhangers met die volgende woorde: “Hou moed, hou jou geloof. Hou vas aan jou beginsels en wees getrou aan jouself en die mense wat vir jou omgee. Hou vas aan God se hand en wees altyd dankbaar vir jou aanhangers en elke geleentheid.”






