KWAZULU-NATAL. – ‘n Man is Vrydag in ‘n skietinsident in Nandirylaan, naby Kewstraat, noord van Durban, doodgeskiet, terwyl nog twee mans skietwonde opgedoen het.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê omstreeks 12:30 is dié diens na ‘n toneel van ‘n skietinsident. Met aankoms op die toneel was dit reeds afgekordon en ‘n voertuig is in die middel van die pad, met mans wat op die teerpad lê, aangetref. Drie mans het skietwonde opgedoen en is geassesseer. Een is dood verklaar, terwyl die ander twee deur gevorderde lewensondersteunende paramedici gestabiliseer is. Die gewonde mans is daarna vir verdere behandeling na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer. Nog ‘n man op die toneel was ongedeerd.
Omstandighede wat tot die skietery gelei het, is onbekend. Die polisie was op die toneel teenwoordig en die insident word ondersoek.






