‘Ek wil kinders behandel soos ek graag behandel wou word’

Lees ook :

André de Kock (61), skoolhoof by Hoërskool Adamantia, sê hy het altyd vir sy juffrou in gr.1 gesê hy gaan eendag ’n meneer word.

Gebore op Alco in die Noord-Kaap, het hy op Delportshoop grootgeword waar hy ook vir 10 jaar lank skoolhoof was.

André is al vir 35 jaar met sy vrou getroud en het twee kinders. Hy het sy onderwysdiploma klaargemaak en sy onderwysloopbaan op Theunissen in die Vrystaat begin. Daar was hy ook vir vyf jaar lank koshuisvader.

“Ek het altyd gesê ek wil kinders behandel soos wat ek graag behandel wou word. Elke leerder en onderwyser se gevoelens moet in ag geneem word. Ek glo jy moet respek toon vir ander en ek verwag ook daardie selfde respek terug.”

Hy vertel ook dit is soms uitdagend om skoolhoof te wees en dit raak elke dag meer uitdagend om dissipline toe te pas.

“Dit is vir my lekker om skoolhoof te wees omdat ek met mense kan werk. Dit is my manier om die gemeenskap te dien en te lei met my optrede.”

André sê die eerste ding wat hy doen wanneer hy in die oggende 06:30 by die skool kom, is om sy e-posse te lees en die departement se stelsel deur te gaan vir boodskappe. Daarna kom die skool se bestuurspan bymekaar voordat die nuwe skooldag begin. Hy gee ook klas en bied geografie vir gr.12 aan. Hy sê hy geniet die vak vreeslik.

André hou van draf en het al aan marathons, die Comrades en Two Oceans deelgeneem. Hy draf ook nog met geleenthede en hou van bergfiets ry, vlieghengel en kunsaashengel in die Vaalrivier.

Een van die dinge wat André sê vir hom soms moeilik is, is om te sien as dit met kinders sleg gaan.

“Wanneer ons sien ’n kind het nie netjiese klere nie, sal ons hom of haar neem en help om klere by die klerebank te gaan uitsoek. Ek sal ook soms rondstaan en vir ’n leerder vra wat fout is, hoekom hy of sy so eenkant sit. Daar gaan so baie in kinders se lewens aan en so baie kinders smag na die regte aandag. Ons probeer om elkeen te help waar ons kan.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief