VRYSTAAT. – ‘n Plaaswerker (53) is Saterdagaand deur verdagtes op ‘n plaas in die Smithfield-omgewing in sy slaap oorval. Alhoewel hy geen sigbare beserings opgedoen het nie, moes hy behandeling vir skok ontvang. Die polisie ondersoek sake van gewapende roof en motordiefstal.
Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring drie onbekende verdagte mans het tussen 20:30 en 23:40 ‘n heining by ‘n gesluite hek geknip om toegang tot die plaas te verkry. Hulle is na die werker se huis waar sleutels van ‘n voertuig op die perseel geëis is. Nadat hulle die sleutels opgespoor het, is twee van die verdagtes die motorhuis in en het met ’n wit Toyota Hilux met registrasienommer DSB 071 FS, asook huisraad van die perseel, weggejaag.
Alle rolspelers is na die toneel ontbied, waar vir leidrade gefynkam is. Die verdagtes is steeds op vrye voet en die polisie se ondersoek duur voort. Enigiemand met relevante inligting word gevra om kol. Ben Bolsiek by 082 466 8530 te bel.





