MPUMALANGA. – Tseliso Nqabanje (33) het ‘n gebreekte linkerarm opgedoen toe vier gewapende mans hom, sy vrou en ‘n mede-werker Donderdagaand tydens ’n gewelddadige huisroof op Suikerboschkop-plaas naby Vosman in hul woonkwartiere oorval het.
Sers. Thulisile Magagula, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die slagoffer en sy mede-werker het in die hoofhuis televisie gekyk. Omstreeks 22:30 wou hy na sy kamer, wat buite die huis geleë is, deur die motorhuisingang gaan. In die motorhuis het hy sy vrou in trane en duidelik ontsteld teëgekom. Sy het hom gewaarsku om in die huis te bly, aangesien daar gewapende indringers op die perseel was.
Voordat Nqabanje kon terugdraai, het vier mans, gewapen met ’n panga, byl, hamer en stokke die motorhuis binnegestorm. Hy het probeer om te vlug en in sy mede-werker se kamer te skuil, maar die aanvallers het hom agternagesit. Die verdagtes het die twee mans aangeval, met tou vasgebind en geld geëis. Nqabanje het hulle gewys waar die geld gebêre is.
Kort daarna het die rowers na die stoorkamer gegaan en die slagoffer se vrou, wat ’n baba in haar arms gehad het, saam teruggebring. Hulle het gesê hulle sal haar nie vasbind nie omdat sy die kind vashou. Die rowers het toe verskeie items uit die stoorkamer buitgemaak, insluitende ‘n slypmasjien, boormasjien, sweisapparaat en ‘n springkasteel. Hulle het sonder sukses ook probeer om ’n kragopwekker te steel. Volgens die polisie is kontant van sowat R3 4300 en ‘n selfoon ook gesteel.
Daarna is die Nqabanje se kamer deursoek en hy is gevra hoeveel mense op die perseel woon en waar sy werkgewer bly (die plaaseienaar woon elders). Hulle is daarna vort. Die vrou het die twee mans later losgemaak.
Vosman-polisie ondersoek ‘n saak van huisroof en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Enigiemand met relevante inligting word gevra om die Vosman-polisie te bel.





