Die hantavirus is ‘n seldsame, maar dodelike siekte wat deur knaagdiere soos rotte en muise versprei word. Wêreldwyd sterf duisende mense jaarliks daaraan. Sonder vinnige mediese hulp kan dit gou lewensgevaarlik raak. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie het Woensdag meer inligting oor die siekte bekend gemaak. Dit kom nadat twee passasiers aan boord van die MV Hondius internasionale passasierskip aan dié virus gesterf en ‘n vrou op die OR Tambo Internasionale Lughawe in mekaar gesak het. ‘n Britse-burger wat positief vir die virus getoets het, ontvang tans behandeling in ‘n hospitaal in Sandton.
Die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid het Woensdag ook meer inligting oor die hantavirus gedeel. Dié departement werk saam met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes en die Gautengse Departement van Gesonsheid om kontak-opsporing te doen. Daar is twee verskillende vorme van die virus, afhangende van waar jy jouself bevind. In die Amerikas tas dit die longe en hart aan en kan die sterftesyfer tot 50% bereik. In Europa en Asië raak dit hoofsaaklik die niere en bloedvate, met ‘n sterftesyfer van tussen 1% en 15%.
Die virus word hoofsaaklik versprei wanneer mense lug inasem wat besoedel is deur die urine, uitwerpsels of speeksel van besmette knaagdiere. Mense wat in sleg-geventileerde ruimtes werk of slaap loop die grootste risiko. Oordrag van mens tot mens is uiters skaars en word slegs in uitsonderlike omstandighede gedokumenteer. Die beste beskerming is om kontak met knaagdiere te vermy. Hou jou huis en werkplek skoon, verseël alle gate waardeur knaagdiere kan binnedring en bêre kos veilig weg. Wanneer jy moontlik besmette areas skoonmaak, moet jy die area eers bevogtig – moenie droog vee of stofsuig nie. Dra handskoene en ‘n masker en was daarna jou hande deeglik.
Die eerste tekens verskyn gewoonlik een tot agt weke ná blootstelling en lyk aanvanklik soos gewone griep — koors, hoofpyn, spierpyne en maagprobleme. Dit is juis hierdie misleidende aanvanklike simptome wat die siekte so gevaarlik maak, aangesien dit vinnig kan vererger na kortasemheid, die ophoping van vloeistof in die longe en lewensgevaarlike skok. Daar is tans geen entstof of spesifieke behandeling vir die hantavirus nie. Vroeë opname in ‘n intensiewesorgeenheid en ondersteunende mediese sorg verbeter egter aansienlik die kanse op oorlewing. Hoe vroeër ‘n pasiënt mediese hulp soek, des te beter.
Volgens Sea News lê die MV Hondius tans naby Cape Verde, met passasiers en bemanning wat binne hul kwartiere moet bly. Laboratoriums van Suid-Afrika en Switserland het die Andes-hantavirus bevestig.
Druk hier om meer te lees.
Dr. Jacqueline Weyer het by SABC Nuus aangesluit om meer inligting oor Hantavirus met die publiek te deel. Kyk hier na die volledige onderhoud hier onder. Dr. Weyer is die hoof van die Sentrum vir Soönotiese en Parasitiese Siektes by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes.:





