HARTBEESFONTEIN, NOORDWES. – Inwoners van Hartbeesfontein was Maandag ontsteld toe hulle na bewering moes aanskou hoe ’n bees in ’n wegneemeetplek geslag word.
Klerksdorp Rekord berig die winkel behoort aan twee Somaliërs. Buurtwaglede is om 20:00 na die toneel, waarna die SAPD ook ontbied is.
Die bees is na bewering na ’n alternatiewe perseel in Tigane geneem waar die slagting voortgegaan het. Volgens berigte is die bees dieselfde dag by ’n boer gekoop.
Die eienaar van die gebou het die twee Somaliërs glo opdrag gegee om die winkel te sluit.
Volgens die NSPCA moet daar menslik met alle diere tydens elke fase van hulle lewe omgegaan word – vanaf geboorte tot hul dood. “Daar is geen aanvaarbare rede om diere onmenslik te hanteer of op so ’n wyse dood te maak nie.”
Bronne: Klerksdorp Rekord, NSPCA, Facebook





