INTERNASIONAAL. – ’n Begrafnis is Sondag in gietende reën gehou vir die drie Libanese joernaliste wat die afgelope naweek deur die Israeliese weermag gedood is.
Ali Shoeib, ’n verslaggewer vir die Hezbollah-verwante Al Manar TV-stasie, is in die dorp Jezzine dood, saam met die verslaggewer Fatima Ftouni en haar broer, die kameraman Mohamed Ftouni, albei van die kanaal Al Mayadeen, volgens die BBC.
Die Israeliese Weermag (IDF) het bevestig dat hy Shoeib gedood het en hom as ’n “terroris vermom as ‘n joernalis” beskryf, maar geen bewyse gelewer om die bewering te staaf dat hy ’n militêre rol in Hezbollah gespeel het nie. Die Israeliese weermag het nog geen kommentaar gelewer oor die dood van Fatima en Mohamed Ftouni nie.
Libanon se president het gesê al drie was joernaliste en het die moorde veroordeel.
Hezbollah het Saterdag die “doelbewuste en kriminele teiken van joernaliste” gekritiseer en wat dit Israel se “valse bewerings” noem, verwerp.
Bronne: BBC, The New York Times





