GAUTENG. – Die aansteeklike hondevirus distemper, ook bekend as hondesiekte, is in Pretoria-Wes en dele van Pretoria-Noord bevestig.
Luidens ‘n verklaring deur die Tshwane-DBV kan die siekte ’n hond se longe, maag, ingewande, brein, oë en vel aantas. Dit versprei deur direkte kontak, hoes, nies en liggaamsvloeistowwe. Die simptome sluit koors, afskeiding uit die oë en neus, hoes, braking, diarree, lusteloosheid en verlies aan eetlus in. In ernstige gevalle kan dit aanvalle, bewing, verlamming en selfs die dood veroorsaak.
“Daar is geen geneesmiddel vir distemper nie, slegs ondersteunende behandeling. Voorkoming deur inenting is noodsaaklik,” lui die verklaring.
Troeteldier-eienaars word versoek om hul troeteldiere se inentings op datum te hou en om teen hondsdolheid sowel as distemper in te ent.