GAUTENG. – Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het op 30 Januarie aangekondig dat mnr. Ariel Seidman, saakgelastigde (chargé d’affaires) van die Israeliese ambassade, as persona non grata verklaar is en binne 72 uur die Republiek moet verlaat.
Volgens ‘n verklaring deur Chrispin Phiri, woordvoerder van die minsterie, volg die departement se besluit op wat beskryf word as ’n reeks onaanvaarbare oortredings van diplomatieke norme en praktyke wat ’n direkte uitdaging aan Suid-Afrika se soewereiniteit stel. Dit sluit volgens Dirco die herhaalde gebruik van amptelike Israeliese sosialemediaplatforms in om beledigende aanvalle teen president Cyril Ramaphosa te loods, asook die versuim om die departement in te lig oor beweerde besoeke deur senior Israeliese amptenare. Die departement het in ’n mediaverklaring gesê die optrede verteenwoordig ’n growwe misbruik van diplomatieke voorregte en ’n fundamentele verbreking van die Weense Konvensie.
DIRCO het die Israeliese regering versoek om toe te sien dat toekomstige diplomatieke optrede respek toon vir die Republiek en die gevestigde beginsels van internasionale betrokkenheid.






