GAUTENG. – Philliph Mumbai (42) en Maxwell Basong (39) van Pretoria-Noord en Tieze Zemeniouh (38) van Sunnyside het Donderdag op aanklag van die besit van vervalste goedere in die Pretoria-landdroshof verskyn. Daarbenewens word Mumbai ook deur ’n aanklag van korrupsie in die gesig gestaar.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die drie is na bewering deel van ‘n sindikaat wat by die druk en verspreiding van vervalste Suid-Afrikaanse en Amerikaanse valuta betrokke is. Die vervalste geld is glo verkoop en gebruik om goedere aan te skaf.
Mumbai het glo Dinsdagmiddag uit ‘n e-hailing-voertig in Elarduspark geklim en na ‘n nabygeleë gastehuis gestap toe hy deur polisielede op patrollie voorgekeer is. Hulle het hom uitgevra oor ’n drukmasjien wat hy by hom gehad het en wou ook weet waarheen hy op pad was. Toe hy nie kon antwoord nie, het die polisie hom versoek om hulle na die gastehuis te neem. By die gastehuis is Basong en Zemeniouh aangetref waar hulle vervalste geld met ’n soortgelyke drukmasjien gedruk het. Al drie is op die toneel in hegtenis geneem. Tydens inhegtenisneming het Mumbai glo probeer om die beamptes met R2 000 om te koop in ruil vir hul vrylating.
Die saak is tydens hul kort hofverskyning tot 10 Julie vir ‘n borgtogaansoek uitgestel.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





