GAUTENG. – Vier kinders, tussen 1 en 4 jaar oud, is Vrydag van ‘n plaaslike kleinhoewe verwyder nadat Pretoria-Noord-polisiestasie ‘n wenk van beweerde kinderverwaarlosing ontvang het.
Kapt. Johan van Dyk sê aan Nuusflits die betrokke polisiestasie saam met die Soshanguve K9-eenheid en maatskaplike werkers van die departement van maatskaplike ontwikkeling het die wenk opgevolg. Op die kleinhoewe is vyf volwassenes en vier kinders aangetref. Voorlopige ondersoek wat deur maatskaplike werkers gedoen is, het bevind die perseel is nie vir kinders geskik nie. Onmiddellike mediese behandeling, is vir die kinders aanbeveel. Tydens deursoeking van die perseel deur die honde-eenheid is dwelms gekry, waarna twee van die mans op ‘n aanklag vir die besit van dwelms gearresteer is. Beide sal binnekort in die hof verskyn.
Van Dyk bevestig die ondersoek deur maatskaplike werkers duur voort en wanneer mediese verslae en aanbevelings terugontvang is, kan aanklagte van kinderverwaarlosing moontlik ingestel word.
Maj.genl. Samuel Thine, die Tshwane-distrikskommissaris, het sy dankbaarheid teenoor die polisielede uitgespreek en gewaarsku misdasde teen kinders sal nie in die gebied geduld word nie. Enigiemand wat misdade teen kinders vermoed, word gevra om dit aan te meld.







