GAUTENG. – Die ma van ‘n kleuter (2) en ‘n sangoma het Maandag albei op ‘n aanklag van moord met voorbedagte rade in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn nadat laasgenoemde die kind in ‘n vlak graf aan die polisie uitgewys het.
Kutlwano Shalaba (2) was glo die “verkeerde” geslag en moes daarom sterf.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die ma, Kuneuwa Portia Shalaba (32), het na bewering op 10 November 2024 die kind na die sangoma, Sebokoana Khounyana (50), ’n Lesotho-burger, geneem en hom gevra om haar kind te vermoor. Sy was glo ontevrede omdat die kind ‘n dogtertjie was en was moeg om haar geslag vir haar familie weg te steek. Die ma het na bewering die baba gif ingegee en ná die kind dood is, het die twee die liggaam in ’n vlak graf in Waterpan, Westonaria, begrawe.
Die polisie het die sangoma om 29 Mei 2025 in hegtenis geneem, waarna hy ‘n bekentenis afgelê en ook uitgewys het waar die kleuter begrawe is. Die twee staar moord met voorbedagte rade, asook verskeie ander aanklagte, in die gesig. Die saak is tot 5 Junie uitgestel. Die staat is van voorneme om sy borgtogaansoek teen te staan.
Die hof het vroeër die ma se aansoek om borgtog geweier.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





