KWAZULU-NATAL. – ‘n Kleutermeisie, vermoedelik 2 jaar oud, het vanoggend (Woensdag) kort voor 11:00 in Holmesrylaan, Umbilo in ‘n swembad geval en verdrink.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens het lede van die gemeenskap op die toneel aangetref waar KPR op die kleutermeisie toegepas is. Gevorderde lewensondersteunende paramedici het die KPR oorgeneem. Ten spyte van die pogings het die kleuter geen lewe getoon nie en is op die toneel dood verklaar.
Die omstandighede wat tot die tragedie gelei het, is tans onbekend. Die polisie was op die toneel en ondersoek die voorval.





