Waarskuwing: Sterk taal in video
WES-KAAP. – Die verdagtes wat glo op Oujaarsdag ‘n Uber-bestuurder beroof het en onwetend deur ‘n paneelbordkamera afgeneem is, is deur wetstoepassingsowerhede vasgetrek. Beeldmateriaal van die misdaad is wyd op sosiale media gedeel.
Raadslid JP Smith sê die insident het in Belgravia, Athlone, plaasgevind, waarna ‘n saak van gewapende roof geopen is. Hulp is op Nuwejaar van die Stad Kaapstad se Veiligheid-en-sekuriteitondersoekeenheid (SSIU) gevra.
Smith sê teen 2 Januarie is al die beweerde verdagtes van die IGB-bende van Hanover Park geïdentifiseer. Die verdagtes was weens die verspreide beeldmateriaal nie op straat gesien nie. Hulle is op 3 Januarie in hegtenis geneem waar hulle met verversings in ‘n park in Mitchells Plein ontspan het.
Inligting is ingewin en onderweg na Athlone-polisie is die geroofde selfoon van die Uber-bestuurder opgespoor by die persoon aan wie dit verkoop is. Dit is as ‘n bewysstuk ingedien.
“Dit is ‘n aanvaarde feit dat ons ondersoekhulpbronne by die SAPD ernstig beperk is, en as ‘n munisipaliteit het ons voortdurend ons eie interne ondersoekvermoë opgebou. Dit is deur die vorige polisieminister en die GOOD-party gekritiseer, wat die Stad verbied het om enige ondersoekbevoegdheid te beklee en die naamsverandering van ons Spesiale Ondersoekeenheid (SOE), na die Veiligheid-en-sekuriteitsondersoekeenheid afgedwing het. Tans is hierdie eenheid binne ons direktoraat beperk tot slegs hulpverlening vir die ondersoek van voorvalle wat uit ons eie optrede ontstaan, of wanneer daar ‘n versoek van die SAPD is om bystand te verleen.”
“Ons is vasbeslote om sukses te behaal en as ons, soos versoek, ondersoekgesag kry, kan ons die SAPD geredelik bystaan om misdadigers te help aankla en verseker dat hulle behoorlik vervolg word. Ons beweeg Suid-Afrika vorentoe, daar is geen keer aan ons nie.”