Waarskuwing! Taalgebruik in video kan lesers ontstel.
GAUTENG. – Borg is vandag vir Dezzi Liebenberg geweier in die hofsaak wat in Bronkhorstspruit teen die egpaar Louis (60) en Dezzi (50) Liebenberg en sewe ander beskuldigdes aan die gang is.
Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sê die landdros het borg vir Desireé Liebenberg geweier. In haar borgverklaring het sy vir borg gevra omdat sy nie ‘n vlugrisiko is nie, eers later by die maatskappye aangesluit het en haar eiendom boonop gevandaliseer word.
Adv. Hana Conradie het die borg teengestaan omdat sy as ‘n vlugrisiko beskou word en toegang tot R200 m. het wat Louis Liebenberg gesê het hy van owerhede wegsteek.
“Verder het adv. Conradie aangevoer dat die beskuldigde versuim het om die hof in sy vertroue te neem deur haar bankstate bekend te maak. Sy het beweer sy het nie toegang daartoe nie, aangesien sy in aanhouding is.”
Die saak is tot 25 November vir die aanhoor van Louis Liebenberg se borgaansoek uitgestel. Die res van die beskuldigdes verskyn weer op 4 Februarie 2025 in die hof.
Die beskuldigdes staan onderskeidelik op aanklagte van bedrog (alternatiewelik diefstal), rampokkery, geldwassery, diefstal, korrupsie en verskeie ander statutêre aanklagte vir die oortreding van die maatskappyewet, tereg. Nog meer aanklagte sal geformuleer en in ‘n latere stadium bygevoeg word. Om meer oor die saak te lees, volg die skakels onder in die berig.
Willem Petzer het ‘n video gedeel van Louis Liebenberg wat vandag weens sy gedrag uit die hof verwyder is. Die landdros het hom volgens Petzer aan Liebenberg se saak onttrek. Liebenberg kan op 25 November weer aansoek doen vir borg. Liebenberg wys in die video met sy vinger na die landdros en sê: “God will judge you.”





