KYK: Groblersdal-saak wéér uitgestel

Lees ook :

Foto: Devon Hofmeyr

Die hofsaak teen Francois van der Merwe, Willem Petzer, Devon Hofmeyr, Tewie Wessels en Dries Olivier is weer vanoggend in die Groblersdal-landdroshof tot 3 Junie uitgestel.

Francois van der Merwe sê die polisie-ondersoek is voltooi. Die saak word nou vir beslissing na die NVG gestuur om vas te stel of die beskuldigdes verhoor gaan word, of nie. Van der Merwe sê daar word voortgegaan in die saak teen Julius Malema en dat hy en Tewie Wessels besig is om ‘n saak teen die SAUK te maak.

Devon Hofmeyr, jeugleier van die UIM, het slegs reageer deur te sê die saak is uitgestel.

Willem Petzer het reeds vroegoggend voor die hofverskyning ‘n plasing op sosiale media gemaak oor die gesloer met die saak wat maar nie tot finaliteit wil kom nie.

Nuusflits het voorheen soos volg berig:

Die viermanskap het op 19 Februarie borg gekry. Dit volg na ‘n optog op 24 Januarie waartydens Van der Merwe in hegtenis geneem is. Petzer, Hofmeyr en Wessels het hulle op 12 Februarie aan die polisie oorhandig, waarna hulle ook in hegtenis geneem is. Dries Olivier, oud-landdros en burgemeester van Groblersdal, het homself op 13 Maart oorhandig, is in hegtenis geneem en is dieselfde dag R5 000 borg toegestaan.

Die beweerde aanklagte teen die vyf beskuldigdes is volgens Petzer: aanranding op ‘n polisiebeampte, openbare geweld, aanhitsing tot openbare geweld en verontagsaming van ‘n polisiebevel.

Lees die volledige plasing van Willem Petzer hier onder:

Goeiemôre geliefdes

Ek staan vandag hier voor die Groblersdal-hof vir my volgende verskyning, en ek wou pas ‘n regstreekse video maak, maar ek het net nie goed genoeg gevoel om op kamera te praat nie, daarom tik ek maar hier.

Vanoggend staan ek half-vyf op, stort, en durf die twee ure Groblersdal toe aan. Ek kan nie onthou hoeveel keer die jaar is dit nou al nie. Gedagtes spoel deur my hoof soos ek nader aan die plek waar ek my vryheid ontneem is beweeg.

Ek ry verby die bekende gesig van Dennilton, waar ek in die polisieselle aangehou is. 24 uur per dag, elke dag, sonder uitsondering, sonder enige tyd buite die tien-by-twaalf-voet selletjie, waar ek saam met negentien ander aangehou is.

Ek besef dat as die staat teen jou oorlog verklaar het, vat dit ‘n baie sterk man om nie te breek nie. Jy baklei man alleen teen ‘n gesiglose bureaukrasie met skynbaar eindelose fondse, en eindelose tyd.

Hierdie maande wat een-vir-een verbygaan met die saak hangende bo my, gaan pynlik stadig verby vir my, maar blitsvinnig vir elkeen wat homself ‘n rat in die staatsmasjien bevind. Dis ‘n ongelyke stryd.

Elke keer wat die staat uitstel, beteken dit niks vir die ratte in die masjien nie. Nog ‘n maand om te sloer en slenter. Maar, vir my, is dit nog ‘n lang maand met die swaard bo my kop.

‘n Mens sou dink dat, as ‘n aanklaer ernstig is om kriminele agter tralies te sit, sal daardie aanklaer druk om die saak so vinnig moontlik af te handel, en die veroordeelde te laat straf.

Dit is tensy dit so beplan word dat die straf die saak self is. Die marteling van die gesloer en onsekerheid. Die straf wat ‘n staatsmasjien kan uitvoer sonder om ‘n skuldigbevinding of ‘n vonnis te kry. Miskien omdat hulle weet ‘n skuldigbevinding is onmoontlik wanneer hulle so goed soos almal weet, die beweerde misdaad het nooit gebeur nie.

Ek is jammer ek gesels so min met u die laaste tyd. Ek glo dit sal weer verander. Hopelik binnekort.

Nou ja, hierdie is maar ‘n paar van my gedagtes. Dink daaroor, wanneer u dink aan ons saak.

En, asseblief, bid vir my.

God’s rykste seën vir u elkeen.

Willem Petzer

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief