NOORDWES. – Hoërskool Rustenburg het Woensdagoggend ‘n besondere saalopening saam met Joshua na die Reën gehad.
Die sanger het volgens die skool se plasing die rede wat hom geïnspireer het om Lig op die Horison te skryf, gedeel, asook wat dit vir hom beteken. Die skoolkoor het die liedjie saam met hom uitgevoer.
Die skool het ook in ‘n amper heilige oomblik van simpatie en respek eer betoon aan Jaden Chegwidden van die skool wat gesterf het. Kyk die video bo ingevoeg.
Nuusflits het voorheen berig Jaden Chegwidden, ‘n matrikulant aan Hoërskool Rustenburg, se afsterwe is deur die skool op hulle sosiale media gedeel. In nog ‘n sosialemediaplasing blyk dit dat Chegwidden in ‘n motorfietsongeluk gesterf het.
Lees die skool se volledige plasing hier onder:
Dís hoe die Rusties bederf word op ‘n Woensdagoggend tydens saalopening!
Dit was ‘n voorreg om Joshua na die Reën vanoggend te verwelkom.
Joshua het met die Rusties kom deel wat hom inspireer het om sy bekende liedjie, Lig op die Horison, te skryf én wat dit vir hom beteken.
Daarna het Joshua saam met die Rustie-koor vanjaar se temalied, Lig op die Horison, gesing!
Dit was voorwaar ‘n bekoorlike oomblik.
Vanoggend is die Rusties dankbaar, dankbaar vir elke leerder wat die voorreg het om by die skool te wees en asemrowende geleenthede te deel.
Mag elke Rustie streef om die lig in donker tye te wees.





