Ruhan du Toit, die sanger wat jou met sy weergawe van The Sound Of Silence kiertsregop van hom laat notisie neem het en op die Lexus Pop Classics-verhoog met Beautiful Things, ACDC en opera bekoor het, doen dit weer.
Jy Hoort Hier
Fanie Nel, woordvoerder vir Coleske Group, sê hierdie nuutste liedjie, wat Du Toit by treffers soos Monumentaal en Val Op Jou Knieë voeg, is inspirerend met ‘n boodskap van hoop en trots.
Die liedjie is ‘n viering van jou plek in jou land en omgewing en herinner aan die rykdom van positiewe aspekte in ons land.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die konsep en oorsig vir die liedjie gedoen terwyl die lirieke en musiek uit die pen van Marco van Deventer en Georic Lomas kom.
“Die storie agter die liedjie is hoofsaaklik om mense weer opgewonde en positief te kry oor die toekoms
van hierdie wonderlike land waarin ons bly. Ja, met al sy foute het ons nog steeds soveel om voor dankbaar te wees,” sê Du Toit.
Die liedjie en ‘n veldtog van Solidariteit met dieselfde naam loop hand aan hand.
“Met hierdie veldtog sê ons hoe Afrikaners steeds bereid is om die uitdagings aan te pak wat ons so dikwels in Suid-Afrika moet trotseer. Ons antwoord ook die vraag oor hóékom ons dan bereid is om dit te
doen: Want ons hoort hier,” sê Hermann.
Nel sê Du Toit het erken dis moeilik om te voorspel hoe ‘n liedjie gaan vaar wanneer hy vrygestel is.
“Maar gebaseer op die positiewe sukses wat ons destyds met Die Land en Monumentaal behaal het, glo ek dit is weer tyd vir so ’n liedjie en dat mense regtig daarvan sal hou,” sê Du Toit.
Volgens Du Toit bring die liedjie met sy energieke tempo en interessante melodieë sielskos na die tafel.
“Steek jou liggie aan saam met my,” sê Du Toit oor die video van Atlas Media waar liggies aan die einde die voorstelling van ‘n verskil wat gemaak word, uitbeeld.
Die video in huishoudings in Pretoria beeld verskeie egte SA-elemente uit, wat geloof en familie insluit.
“Die liggies aan die einde is elkeen wat sy hand opsteek om ’n verskil te maak.”
Du Toit hoop by musiek bring ‘n gevoel van behoort en trots. En wat sou jy dink is hiedie sanger met sy stem wat op internasionale verhoë hoort se loopbaanhoogtepunt?
Du Toit huiwer nie dat dit is toe hy in 2016 met sy heel eerste Afrikaans is Groot-optrede Sound of Silence gesing het nie. Die res is geskiedenis, soos gesê word.
Nel sê Du Toit, wat by www.coleskeartistmanagement.com vir enige geleentheid bespreek kan word, het verklap nog ‘n enkelsnit of twee gaan moontlik volg.
“Miskien ietsie ligs en aan die kuierkant.”
Jy Hoort Hier kan op alle stroomdienste gevind word.