BLOEMFONTEIN. – Die Mangaung-metromunisipaliteit het vanoggend begin om ‘n hofbevel wat teen grondgrype toegestaan is, uit te voer. Inwoners wat gedurende die afgelope week onwettig in Lourierpark-huisstrukture begin oprig het, sal dit moet afbreek en verwyder. Dit geld slegs vir strukture wat nog nie voltooi is nie en dié wat onbewoon is.
Die hofbevel magtig die munisipaliteit se wetstoepassers, die SAPD en die Rooi Miere om tydens die afbreking en verwydering betrokke te wees.
Die munisipaliteit sê in ‘n verklaring elke keer wanneer daar grondgrype is, moet hulpbronne wat elders aangewend kon wees, gebruik word. Diegene wat met grondgrype besig is, word versoek om met die muisipaliteit hande te vat en ‘n einde aan onwettige aktiwiteite te bring.
In die video’s wat Flitsnuus ontvang het, kan gesien word hoe die strukture afgebreek en weggery word.






