GAUTENG. – In nog ‘n onbevestigde voorval is ‘n kind glo Sondagaand naby die R80, by Bremerstraat, deur twee mans gegryp en die bosse ingesleep. Donderdag het ‘n soortgelyke voorval na bewering in die Hercules-polisiëringsarea plaasgevind.
Die polisie se kol. Dimakatso Nevhuhulwi het vanoggend (Maandag) aan Nuusflits gesê die polisiestasie wag op rapportering van die voorval.
Leon Kruyshaar, DA-raadslid van Wyk 1 waar die beweerde voorval plaasgevind het, sê die polisie en GPF, wat dadelik reageer het, het ‘n gebied afgesper en ‘n soektog is geloods.
Die beweringe is glo deur ‘n volwassene wat ‘n ooggetuie van die beweerde insident was, gemaak. Volgens Kruyshaar het nog vier volwassenes na vore gekom wat volgens hulle ooggetuies van die insident was. Hy het voorts gevra die gemeenskap moenie spekuleer nie en die polisie kans gun om die insident behoorlik te ondersoek. Onder bevel van die polisie is in ‘n groot gebied van brug tot brug en in tonnels gesoek. AfriForum is ook met hommeltuie deel van die soektog.
Enigiemand met relevante inligting is gevra om Hercules-polisiestasie of Sektor 2 se GPF-voorsitter te bel.
Xander Loubser van Best Care-nooddienste sê: “Ons wil die onlangse rapportering oor kinderveiligheid in ons area aanspreek. Dit is belangrik om te verduidelik dat, weens ‘n gebrek aan geloofwaardige inligting en die afwesigheid van enige ooggetuieverslae van ontvoering, geen kinders sedert die aanvanklike voorval (Donderdag) as vermis aangemeld is nie. Gebaseer op ‘n huidige verslag van nog ‘n ontvoerde kind, word hulpbronne nou geaktiveer om ‘n soektog uit te voer.
Gegewe die huidige weerstoestande, wil ons nie sonder geloofwaardige bewyse, addisionele hulpbronne toewys om na ‘n vermiste kind te soek nie. Daarom vra ons asseblief alle ouers en voogde om onmiddellik te kyk waar u kinders is wat dalk nie op hierdie huidige oomblik by die huis is nie, is. Om te verseker dat ons kinders veilig is en dat daar verantwoording gedoen word, is ons topprioriteit. U samewerking word opreg waardeer terwyl ons hierdie situasie navigeer. Rapporteer asseblief enige verdagte aktiwiteit of onbereikbare kind(ers) direk by Hercules SAPD / Hercules CPF.”
Na Donderdag se insident is ‘n volskaalse soektog sonder sukses geloods en ‘n navraag is geopen. Geen ouer het nog ‘n kind as vermis aangemeld nie.
Foto’s: Leon Kruyshaar
Lees meer hier onder oor Donderdag se insident: