Riaan Benadé, immergewilde sanger, groet die jaar met Vitamiene See, net betyds vir die vakansie- en feesseisoen.
Fanie Nel van Coleske Group sê met die jaar wat vinnig einde se kant toe staan, het Riaan besluit om sy aanhangers op ‘n spesiale manier met die uitreiking van die nuwe enkelsnit te bederf.
Met Riaan en Melissa, sy vrou, se onlangse vakansie op Mauritius, kon die sanger nie anders nie as om die kitaar vir oulaas nader te trek en nog ‘n treffer met lekker ritme die lig te laat sien nie.
Riaan is bekend daarvoor dat hy onverwags kreatief kan wees en binne 15 minute ‘n liedjie kan skryf. Hy is deur Melissa se energie op hulle vakansie geïnspireer en aangemoedig om hierdie liedjie oor ‘n vakansiegevoel by die see te skryf. Die paar se vakansie is met selfoonvideo’s verewig en is as klankbaan vir die liedjie gebruik. Riaan en Melissa het self die video verfilm en geredigeer, wat dit een van sy mees persoonlike en koste-effektiewe projekte tot dusver maak.
“Dis ’n ligte liedjie wat hopelik niks anders doen as om jou gelukkig te maak nie. Om binne drie weke ’n liedjie te skryf, te vervaardig en vry te stel, is soos om ’n Sondag-na-kerk-maaltyd in 15 minute aanmekaar te slaan,” skerts Riaan.
Nel sê die produksie van Vitamiene See was ’n spanpoging, met Ricus Nel as vervaardiger. Riaan
prys Ricus vir sy toewyding te midde van ’n besige jaar. Dié liedjie bring ’n nostalgiese, maar vars klank wat ideaal is vir ‘n vakansiegees, en Riaan hoop dat dit luisteraars sal inspireer om te ontspan en hulself te geniet – of hulle nou by die see of elders is.
En sien jy uit om in 2025 meer van Riaan te hoor, is daar reeds nuwe projekte onderweg en belowe hy sy kreatiewe reis gaan aanhou verras. Hy sluit af deur sy dankbaarheid te deel vir almal wat deel was van hierdie vinnige en opwindende reis, wat “grootbaas” Arnold Coleske, Paulo Azevedo, Ricus Nel, en sy grootste ondersteuner, sy vrou Melissa, insluit.
Vitamiene See is hier op alle stroomdienste beskikbaar.
Volg Riaan Benadé op sy webblad, Facebook, Instagram, TikTok en Youtube.