WES-KAAP. – Die dodetal in George by die gebou wat gistermiddag net na 14:00 in Victoriastraat in duie gestort het, het tot ses gestyg.
Daar word onverpoos nog na 48 persone in die puin gesoek. Daar word kort-kort stilte gehandhaaf om te luister of oorlewendes gehoor kan word.
Die munisipaliteit vra enige aflewerings, soos kos, water en noodtoerusting vir die nooddienswerkers kan afgegee word deur gebruik te maak van Ivystraat, by Victoriastraat 79, by die tent van Delplan Consulting.
Veiligheidstoerusting soos valhelms, veiligheidsbrille, koplampe en handskoene is broodnodig vir die nooddienswerkers op die toneel.
Volgens Mosselbay Advertiser op die toneel is daar deur middel van ‘n selfoon kommunikasie met twee vasgekeerde persone na wie gesoek word.





