GAUTENG. – ’n Lasbrief is Woensdag vir die inhegtenisneming van Lucky Boitumelom Molefe uitgereik. Hy word in verband met die moord op Armand Swart (30) gesoek, wat op 17 April 2024 buite sy werkplek in Vereeniging in sy voertuig doodgeskiet is.
Twee verdagtes, wat in ’n wit Hyundai i20 gery het, het op hom losgebrand. Hy het verskeie skietwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar. ’n Intensiewe ondersoek onder leiding van die polisie-hoofkantoor se eenheid vir georganiseerde misdaad en misdaadintelligensie het tot die inhegtenisneming van vier verdagtes gelei. Dit sluit ‘n persoon in wat vermoedelik die moordkomplot beplan het. Die sluipmoord is na bewering gereël om Swart stil te maak nadat hy inligting oor bedrog en korrupsie oor ’n Transnet-tenderkontrak aan die lig gebring het.
Molefe, afkomstig van Johannesburg, vlug sedert Desember 2024 vir die polisie. Die saak van die ander vier beskuldigdes wat steeds in aanhouding is, is in die Palm Ridge-hooggeregshof vir verhoor tot Augustus uitgestel.
“Ons doen ’n beroep op Molefe om homself by die naaste polisiekantoor oor te gee, sê lt.kol. Vincent Mukhathi aan Nuusflits.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





