Die dokumentêre program oor Laurika Rauch, Laurika se Tuiskoms, wat saam met haar laaste liedjies na 50 jaar in die bedryf uitgereik word, is so gewild dat programme vir ‘n heruitsending rondgeskuif is.
Fanie Nel van die Coleske Group sê die dokumentêre program het geweldige reaksie uitgelok. kykNET het besluit om dit weer vanaand om 20:00 uit te saai. Normale progamme moes plek maak vir dié gewilde dokkie.
“Die program Rugby of Niks skuif na 21:30. Dis selde dat kykNET sulke skuiwe maak.”
Die volledige kortspeler met die sangeres se laaste vyf liedjies, genaamd Huis, word Vrydag 31 Januarie uitgereik.
Laurika het haar aanhangers op sosiale media só bedank:
Goeiemôre
Vandat Nog voor ek jou geken het uitgereik is, was daar net ‘n “oorverdowende” reaksie op die liedjie. Ek is so dankbaar vir almal wat luister en vir my sê hoe mooi dit vir hulle is. Gideon Botes het ‘n pragtige verwerking gedoen. My gunstelinggedeeltes is waar die banjo daardie herhalende deuntjie of loop speel. En dan eindig die liedjie weer met die banjo-klanke. Die persoon wat harmonieer met my op sommige gedeeltes, is Johan Oberholzer self, die skrywer van die liedjie. Dis so lekker om sy liedjies te sing.
My nuutste nuus, wat jy dalk al gehoor het, is dat kykNET, een van die borge van die dokumentêre program oor die maak van my EP (Huis), besluit het om Laurika se Tuiskoms weer vanaand 29 Januarie 2025 om 20:00 uit te saai! Dis blykbaar taamlik ongehoord dat hulle so ‘n herskedulerig op sulke kort kennisgewing doen, maar hulle sê dis as gevolg van openbare vraag. Baie dankie aan jou, en baie dankie aan kykNET.
Die ander borg van die dokumentêr is pHFormula. Weer eens dankie ook aan hulle wat saam met kykNET dit moontlik gemaak het vir Carien Loubser van Brainwave Productions om so ‘n mooi program te maak.
Ek herinner jou daaraan dat my kortspeler Huis op hierdie Vrydag 31 Januarie op al die stromingskanale uitgereik word. Jy sal dan die ander drie liedjies wat saam met Liewe lewe en Nog voor ek jou geken het die EP vorm, kan stroom.
Met baie liefde en groot dankbaarheid
Laurika
Paulo Azevedo, voorheen van die popgroep EDEN en nou ‘n vervaardiger en ‘n bestuurder van Coleske Group, het Laurika Rauch gegroet:





