LIMPOPO. – Malesela Albert Mangena (33), Velly Segwale (44) en Lesiba Solly Segwale (44) is Vrydag in die Polokwane-hooggeregshof lewenslank tronk toe gestuur ná die moord op Nicky Janse van Rensburg op 7 Oktober 2022 op sy plaas Derdekraal, buite Roedtan.
Kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die hof het gehoor hoe Van Rensburg deur onbekende aanvallers doodgeskiet is. Die Roedtan-polisie het ‘n moordsaak geopen en die ondersoek is aan sers. Mooka toegeken. Deur samewerking met kollegas is die drie verdagtes in hegtenis geneem en van moord aangekla.
Die drie is skuldig bevind en vir die komplot om moord te pleeg elk tot 7 jaar gevonnis. Vir moord en roof met verwarende omstandighede is twee lewensvonnisse aan elk opgelê. Op die klag van die besit van ‘n vuurwapen sonder ‘n lisensie en vir die besit van ammunisie sonder ‘n lisensie is elk 10 jaar vir elke klag opgelê en vir roof met verswarende omstandighede 15 jaar. Al die vonnisse sal gelyklopend met die lewenslange vonnis vir moord uitgedien word. Die beskuldigdes is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.
Lt.genl. Thembi Hadebe, die provinsiale kommissaris, het die vonnis verwelkom. Volgens Hadebe dien hierdie vonnis as afskrikmiddel vir voornemende misdadigers en bring dit moontlike afsluiting vir die slagoffer se familie.
Nuusflits (voorheen FiND-iT) het aanvanklik op 9 Oktober 2022 berig Nico (Nicky) Janse van Rensburg (35) en Veronica (Katryn) Grobler is op die plaas Derdekraal, Roedtan, in die Waterberg-distrik in Limpopo aangeval. Janse van Rensburg is doodgeskiet. Aanvallers het toe reeds ‘n 15-jarige seun wat saam met hulle woon, in die huis vasgebind. Die polisie in Limpopo het overpoos gewerk om een van die verdagtes van die moord en huisroof vas te trek.
Lees die vorige berig hier: Boer van Roedtan vasgebind en doodgeskiet, vrou wag deurnag vir hulp om op te daag
Brig. Motlafela Mojapelo het destyds bevestig ‘n verdagte is reeds die Saterdag ná die aanval en moord die vorige dag in hegtenis geneem, terwyl ander verdagtes gesoek was.
Vyf verdagte mans het die Vrydagaand omstreeks 18:00 met ‘n wit Toyota Corolla, met onbekende registrasienommer, op die plaas aangekom onder die voorwendsel dat hulle melk wou koop. Hulle het ‘n vriend van die oorledene op die plaas gevind wat met geweld die plaashuis ingedwing en deur een van die verdagtes opgepas is. Die oorlede plaaseienaar en sy lewensmaat het van die dorp af tuisgekom en is deur die oorblywende vier verdagtes met wapens gedreig, aangeval en aangerand. Die verdagtes het die lewensmaat en vriend met kabelbinders vasgemaak en geld geëis. Hulle het die plaaseienaar ontwapen, met ‘n ysterpyp geslaan en hom gedwing om die kluissleutels aan hulle te oorhandig. In die proses is hy doodgeskiet. Hulle het vuurwapens, insluitend ‘n geweer uit die kluis, selfone, ‘n skootrekenaar en ander waardevolle items gebuit voordat hulle in ‘n wit Toyota Corolla van die toneel gevlug het.
‘n Taktiese intelligensie-gedrewe operasie is deur ‘n span ondersoekbeamptes in opdrag van lt.genl. Thembi Hadebe onderneem om die beweerde verdagtes op te spoor. ‘n Wit Toyota Corolla met die beskrywing van die een wat tydens die plaasaanval deur die verdagtes gebruik is, is in Moletji, Seshego-polisiëringsgebied opgemerk. Die voertuig met ‘n insittende is gestop, afgetrek en deursoek. Polisielede het twee 9 mm-pistoolmagasyne, 30 lewendige rondtes ammunisie en ‘n 9 mm-dubbelmagasyn gevind. Die verdagte is dadelik in hegtenis geneem. Meer verdagtes is later in hegtenis geneem.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





