LIMPOPO. – Musa Walter Chabalala (34) van Tshisaulu is deur die hooggeregshof, sittend in die Waterval-landdroshof in Thohoyandou, lewenslange tronkstraf vir verkragting gevonnis, asook 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede en vyf jaar vir huisbraak met die opset om ’n misdryf te pleeg, ná ‘n bejaarde vrou aangeval en verkrag is.
Mashudu Malabi-Dzhangi, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits Chabalala het die bejaarde vrou op 21 Augustus 2020 aangeval en is skuldig bevind. Die hof het gehoor hoe Chabalala ‘n venster oopgemaak en fie vrou se slaapkamerdeur oopgebreek om toegang te verkry. Gewapen met ’n mes, het hy haar gedreig, beveel om onder ’n kombers weg te kruip en geld geëis. Hy het sowat R40 en ’n klankstelsel gesteel en die slagoffer daarna gedwing om te ontklee, haar verskeie kere verkrag en daarna gevlug.
Die slagoffer het die voorval onmiddellik aangemeld. ’n Deeglike ondersoek het die beskuldigde deur middel van forensiese bewyse aan die misdaad verbind. Ten spyte daarvan dat Chabalala onskuldig gepleit het, het die staat bewyse gelewer wat sy skuld bo redelike twyfel bewys het. In ‘n verswarende betoog is daar aangevoer dat verkragting ’n pandemiese vlak in die Vhembe-distrik bereik het en dat streng strawwe noodsaaklik is om kwesbare burgers, veral bejaardes, te beskerm. Daar is ook beklemtoon dat die beskuldigde ’n herhaalde oortreder is wat nie deur vorige skuldigbevindings afgeskrik is nie.
Regter Thogomelani Caution Tshidada het tydens vonnisoplegging gesê die beskuldigde is “een van die vuilste oortreders wat nie verdien om in ons gemeenskappe te leef nie.” Hy het bygevoeg dat die slagoffer oud genoeg was om die beskuldigde se ouma te wees en met waardigheid en respek behandel moes word. Die regter het die beskuldigde se gebrek aan berou uitgewys en geen versagtende faktore gevind nie.
Die Nasionale Vervolgingsgesag het die vonnis verwelkom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





