VRYSTAAT. – Die liggaam van Lethabo Prince Litabe (3) is Sondagoggend in Winburg, toegedraai in ‘n swart vullissak, gevind nadat hy Saterdag 16 November vermis geraak het.
Lt.kol. Stephen Thakeng sê aan Nuusflits Neo Litabe van die Makeleketla-woonbuurt in Winburg het Saterdag omstreeks 19:00 sy kleuterboetie as vermis aangemeld. ‘n Vergeefse soektog is geloods. Sondagoggend omstreeks 06:30 het ‘n inwoner van Makeleketla die polisie gebel oor die liggaam van ‘n kind wat in hulle erf gevind is.
“Met aankoms van die SAPD-lede is die liggaam van ‘n kind, toegedraai met ‘n swart plastiekvullissak, gevind.”
Nooddienste het die kleuterseun dood verklaar en sy familie dienooreenkomstig ingelig. Die liggaam van die seun is deur sy oom uitgeken.
Thakeng sê ‘n saak van moord word ondersoek. Enigiemand met relevante inligting kan speursers.Liezel van der Westhuizen by 082 466 7678 bel.





