GAUTENG. – Sewe persone is Sondag in die Mokokotlong- informele nedersetting doodgeskiet. ‘n Kroegeienaar het glo op ‘n groep mense by lobola-feesvieringe losgebrand en daarna sy eie lewe geneem. Altesaam sewe moorde, vier sake van poging tot moord en ‘n geregtelike doodsondersoek is by Orange Farm geregistreer.
Brig. Brenda Muridili sê die skietinsident het Sondag in die vroeë oggendure gebeur toe feesgevier is na lobola-onderhandelinge. Een van die mans is na bewering na ‘n plaaslike kroeg om drank te koop, maar dit was reeds toe. Hy en die eienaar het glo ‘n struweling gehad, waarna hy terug is huis toe. Die eienaar het hom tot binne-in die huis gevolg waar steeds feesgevier is. Hy het glo lukraak begin skiet, waartydens vyf familielede, ‘n buur en ‘n 3-jarige seun doodgeskiet is. ‘n 31-jarige en 1-jarige babaseun is met beserings na ‘n hospitaal geneem. ‘n Vrou (24) en ‘n 4-jarige is nie getref nie.
“Die verdagte het toe terug na sy huis in Evato gery, waar hy homself na bewering geskiet het. Daar is met hom na ‘n hospitaal gehaas, maar hy is met aankoms dood verklaar.”
Muridili sê die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad ondersoek al die sake.





