LIMPOPO. – Twee weermaglede is gedurende die naweek lig in aanvalle deur ‘n luiperd by die Hoedspruit-lugmagbasis beseer.
Volgens die Citizen is ‘n lid een oggend toe hy draf aangeval en die ander een toe hy een middag huis toe gestap het.
Die Suid-Afrikaanse Lugmag sê in ‘n verklaring hy is bewus van die voorvalle wat die naweek by Drakensig-woonbuurt plaasgevind het en sien dit in ‘n ernstige lig. Ondersoek word na die insidente ingestel en die lugmag sê die veiligheid van sy lede is ‘n prioriteit.
Hulp van deskundiges is ingeroep om die situasie te assesseer om toekomstige voorvalle uit te skakel. Die lugmag werk saam met owerhede en rolspelers om die situasie te hanteer. Die luiperd sal na verwagting na ‘n veilige omgewing by SAWONG in Phalaborwa verskuif word.
Personeel is gemaan om versigtigheid aan die dag te lê en veiligheidsprotokolle na te kom wanneer hulle met wildlewe in die gebied te doene het.

Bronne: SAAF, AFP, Citizen en MolevestosPress