Brekende Nuus
Afrikaans

LUR spreek kommer uit na bakleiery by skool

Foto: Skermgreep van video Yusuf Abramjee op X
Foto: Skermgreep van video Yusuf Abramjee op X

GAUTENG. – Die LUR vir Gauteng, Matome Chiloane, het sy kommer uitgespreek nadat ‘n video van ‘n bakleiery in ‘n klaskamer by Hoërskool Glenvista in Johannesburg Vrydag wyd op sosiale media versprei is.

Steve Mabona sê die bakleiery was tussen ‘n onderwyser en ‘n gr.-9 leerder. Inligting dui aan dit het op 2 Mei gebeur. Skade aan skoolmeubels is aangerig.

‘n Ondersoek is hierna deur die onderwysdepartement geloods.

Chiloane sê die voorval word ernstig opgeneem en die veiligheid van persone op ‘n skoolperseel is ‘n prioriteit. Hy sê voorts swak dissipline sal nie geduld word nie.

“Schools are for development, not any other nefarious deeds. As such, we are investigating the circumstances surrounding this incident and we will act on decisively on our findings,” sê Chiloane.

Die video is deur Yusuf Abramjee van Crime Watch op sy X-profiel gedeel.

In die video kan gesien word hoe twee leerders baklei en die onderwyser betrokke raak. Een van die leerders swaai ‘n vuis in sy rigting, waarna die situasie handuit ruk. Die onderwyser wat op die grond beland, staan op en probeer die leerder met ‘n stoel bykom, waarna nog ‘n leerder die onderwyser met ‘n stoel van agter probeer slaan.