MPUMALANGA. – Die Evander-streekhof het kriminele aanklagte teen Riaz Moolla (42), Fatima Moolla (62) en Suliman Ismail Moolla (67) teruggetrek. Die maatskappy Uptown Superstore Store is egter deur die Evander-streekhof met R600 000 beboet op voorwaarde dat 504 duursame dubbel-sitplek skoolbanke aan vier skole in die Highveld Ridge-streek geskenk word. Die maatskappy is daarvan beskuldig dat dit in vervalste/onwettige sigarette handel gedryf het.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, polisiewoordvoerder, sê Suliman Moolla, direkteur van die maatskappy, het ’n pleitooreenkoms met die staat bereik. Die maatskappy het drie maande om aan die vonnis te voldoen. Die vonnis volg nadat die onderneming skuldig bevind is aan die hantering van 4 710 pakkies vervalste sigarette ter waarde van R107 700 – teenstrydig met die wet op tabakprodukte, die doeane-en-aksynswet, asook die BTW-wet.
Genl.maj. Nico Gerber van die Valke het die ondersoekspan, die nasionale vervolgingsgesag en die regbank geprys: “Dis ’n interessante vonnis, misdadigers moet weer die sak skud as gevolg van hulle misdade, maar hierdie keer trek die gemeenskap voordeel. Dit gaan beslis bydra tot beter onderwys vir die volgende geslag.”





