GAUTENG. – Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, het maksimum hulpbronne ontplooi om Jabulani Moyo, ’n beskuldigde wat in aanhouding was toe hy Vrydag na bewering twee speurders in Roodepoort doodgeskiet het, op te spoor.
Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring ’n multidissiplinêre span bestaande uit misdaadintelligensie, speurders, asook die Valke, is op soek na Moyo. Masemola het ook ’n beroep op die publiek gedoen om nie aan hierdie gevaarlike misdadiger, wat in besit is van ’n SAPD-diensvuurwapen, skuiling te bied nie. Die vuurwapen wat hy van een van die beamptes gesteel het, is glo dieselfde wapen wat gebruik is om die twee speurders te vermoor.
“Moyo moet in sy spore gestuit word en hy kan slegs verhoed word om verdere misdade te pleeg indien die gemeenskap saam met die polisie werk deur vir ons inligting te gee oor waar hy hom bevind. Hy is ’n gevaarlike misdadiger en daar word na hom gesoek om te verhoed dat hy nog gruweldade pleeg. Ons sal nie rus voordat ons hom gevind het nie en ons waarsku hom ook om homself by sy naaste polisiekantoor oor te gee,” het genl. Masemola gesê.
Mathe sê voorts die moord op die twee speurders het plaasgevind terwyl die polisie voorberei om 27 polisiebeamptes te vereer wat in die afgelope boekjaar in die uitvoering van hul plig gesterf het. Die SAPD-herdenkingsdag is ’n jaarlikse geleentheid wat op die eerste Sondag van September plaasvind. Die dag dien as ’n huldeblyk aan die dapperheid en opoffering van die mans en vroue in uniform wat die hoogste prys betaal het om die mense van Suid-Afrika te dien en te beskerm. Die geleentheid word by die Uniegebou gehou waar die name van die gesneuwelde beamptes op die SAPD-gedenkteken aangebring word.
Sedert 1 April 2025 tot op hede het die SAPD vyf polisielede in die uitvoering van hul plig verloor.
Prof. Firoz Cachalia, die waarnemende minister van polisie, het die moord op die twee polisielede in die sterkste moontlike terme veroordeel. Kamogelo Mogotsi, ministeriële woordvoerder, sê die polisielede is in ‘n hinderlaag gelok en doodgeskiet.
“Ons betuig ons innige meegevoel aan die families, vriende en kollegas van die gesneuwelde speurders. Hul opoffering in die uitvoering van hul plig is ’n duidelike herinnering aan die daaglikse gevare wat ons polisielede in die gesig staar terwyl hulle die reg handhaaf en die veiligheid van alle Suid-Afrikaners verseker. Ons skuld hulle en elke beampte wat die blou uniform aantrek dankbaarheid wat woorde alleen nie volledig kan uitdruk nie. Ons veroordeel hierdie daad van geweld in die sterkste moontlike terme. ’n Aanval op die polisie is ’n aanval op die staat. Ons sal nie rus totdat Jabulani Moyo agter tralies is nie. Ons doen ’n beroep op die publiek om inligting oor Moyo te verskaf. Geen detail is te klein nie. U hulp kan van kardinale belang wees om te verseker dat geregtigheid geskied. Aan die mans en vroue in blou – ons staan saam met julle. Ons treur saam met julle. En ons sal julle aanhou ondersteun terwyl julle hierdie belangrike werk namens ons nasie verrig.”





