VOSMAN, MPUMALANGA. – ‘n Man (30) het oorleef nadat beide sy hande op Woensdagoggend 20 Maart deur ‘n groep onbekende verdagtes afgekap is.
Kol. Donald Mdhluli sê die slagoffer het op die Kromdraaipad in Vosman naby Witbank (Emalahleni) geloop toe ‘n groen Opel Corsa-bakkie met die verdagtes hom oorval het. Hy is na bewering met ‘n wapen gedreig en in die bakkie gedwing, waarna sy hande en voete vasgebind is.
Volgens die slagoffer het hy nie die verdagtes se taal verstaan nie, maar hy kon wel agterkom dat hulle van plan is om hom dood te maak. Hulle het na bosse gery en uit die bakkie geklim waar sy hande afgekap is. Die verdagtes het met die afgekapte hande van die slagoffer weggery en hom agtergelaat.
Mdhluli sê sekuritetisbeamptes het op die slagoffer afgekom en die polisie sowel as nooddienste ontbied. Hy is vir mediese hulp na ‘n hospitaal geneem waar hy opgeneem is.
Die polisie het ‘n saak van poging tot moord oopgemaak en soek na die verdagtes.
Enigiemand met inligting word deur die polisie versoek om speur.lt.kol. Muntu Mbatha by 082 600 8537 te bel.





