WES-KAAP. – Gerhard Nel (65) het Maandag in die vroeë oggendure tydens ‘n plaasaanval op die plaas Tevrede in Porterville gesterf. Nel en sy vrou, Barbara Nel (63) is in die plaashuis oorval.
AO Joseph Swartbooi sê toegang tot die huis is omstreeks 01:00 deur vyf gewapende verdagtes forseer. Nel is verskeie kere gesteek, terwyl sy vrou vasgebind is. Die verdagtes het die huis geplunder. Barbara Nel kon daarin slaag om te ontsnap en hulp by bure te kry. Nel het nie die aanval oorleef nie en is deur mediese personeel in ‘n nabygeleë hospitaal dood verklaar.
Swartbooi sê die verdagtes het met vier verskillende kalibers vuurwapens en ammunisie, sowel as selfone, van die misdaadtoneel gevlug. Die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade volg tans alle leidrade op om die verdagtes vas te trek. Die motief vir die aanval blyk roof te wees.
Enigiemand met inligting word versoek om met die polisie in verbinding te tree.





